Die Graad Elfs sal volgende week weer mondelinge doen en een van hulle onderwerpe is Tienergeweld.  Hierby ingesluit is ‘n onlangse artikel oor ‘n skokkende aspek van ons moderne samelewing.

(The Grade Elevens will be doing orals next week and one of their subjects is Teenagers and Violence.  Included herewith is a recent article about a shocking aspect of our modern society.)

Tienergeweld: Wat maak jou so kwaad?

Deur: Rozanne Els | Maandag 23 April 2012 27:05

  • 0

    like dit

  • 1

    like dit nie

Is tienergeweld erg in jou skool of gemeenskap? Foto: THINKSTOCK

Dit begin dalk met ’n uitbarsting, maar volgende keer eindig dit in ’n vuisgeveg. Tienergeweld in Suid-Afrika is onder die ergste in die wêreld.

Die land was geskok toe ‘n rugbyspeler van dieHoërskool Hans Strijdom op Mookgo­phong (Naboomspruit) onlangs ‘n skeidsregter eers gevloek en toe bewusteloos geslaan het kort nadat hy met ‘n rooikaart van die veld gestuur is nadat hy ‘n ander speler oor die kop geslaan het.

Geweld kan baie vorms aanneem – van boelies in die skoolgange tot ‘n klap deur die gesig by die huis of ‘nvuishou op die
rugbyveld.
 Die probleem bly ewe kommerwekkend, sê dr. Catherine Ward, ‘n senior dosent in die departement sielkunde aan die
Universiteit van Kaapstad.
Sy was ook een van die skrywers van die boek Youth Violence: Sources and Solutions in South Africa, wat onlangs gepubliseer is.
“Die meeste geweld word deur jong mense gepleeg en jong mense is ook die meeste van die tyd die slagoffers,” sê sy.

Hoekom kies jy geweld?
Talle tieners draai eerste na geweld omdat dit die manier is hoe hulle geleer is om ‘n probleem op te los, sê Ward.
“Hulle word nooit geleer hoe om kalm oor iets te praat en tot ‘n vergelyk te kom nie. Hul onmiddellike reaksie is om kwaad te raak en dan met geweld uiting aan hul woede te gee.”
Maar al tree jy nou so op, beteken dit nie jy kan jou gedrag nie verander nie, sê Ward.
Daar is baie programme wat jou kan help om op die regte pad te kom, byvoorbeeld by die Family and Marriage Association of South Africa (FAMSA) (www.famsa.org.za) of Childline (www.childlinesa.org.za/ 0800 055 555).

Wat maak jou kwaad?
Volgens Ward kan die probleem begin nog voordat jy gebore is. Ma’s wat rook, drink en dwelms gebruik terwyl hulle swanger is, dra by tot die moontlikheid dat jy eendag aggressief kan wees.
Ander faktore wat aanleiding tot gewelddadige gedrag kan gee, sluit in:
Geweld: Tieners wat blootgestel word aan geweld in hul huise, in hul gemeenskap en by die skool, beskou dié tipe optrede as aanvaarbaar en kan self sulke gedrag toepas.
Dwelms en alkohol: Tieners wat in huise woon waar dwelms en alkohol misbruik word, kan later self ook dié middels misbruik of tot geweld oorgaan.
Media: Die meeste tieners weet dit wat hulle op die televisie sien, is toneelspeel, maar dit kan tog gewelddadige gedrag aanmoedig, veral as hulle met ‘n karakter identifiseer en hom of haar dan wil naboots.
Depressie: Baie tieners raak ook aggressief as hulle depressief is, deels om hul woede deur geweld te verlig.
Groepsdruk: Tieners kan deur maats beïnvloed word om sekere gedrag uit te oefen wat hulle glo hulle meer aanvaarbaar vir die groep sal maak, veral in bendes.

Hoe keer jy geweld?
Jy en jou ouers moet ‘n goeie verhouding opbou en goeie kommunikasie tussen julle behou sodat julle eerlik oor ernstige kwessies kan gesels.
Ouers, julle moet altyd weet waar en saam met wie jou kind is en ook jou kinders se vriende ken.
Daar moet duidelike reëls wees wat konsekwent toegepas word. Tieners moet weet wat die beperkinge is.
Moenie geweld in die huis toelaat nie. Leer om eerder ‘n probleem uit te praat eerder as om met woede en aggressie te reageer.
Ouers moet ‘n goeie voorbeeld vir jou stel. Tieners leer by hul ouers hoe om op te tree. Indien hulle nie vir jou ‘n goeie voorbeeld is nie, moet jy ‘n ander rolmodel kry, byvoorbeeld ‘n onderwyser of familielid na wie jy kan opkyk en met wie jy openlik kan gesels.
Raak betrokke by jou skool en by gestruktureerde na-skoolse aktiwiteite waarvan jy hou (en wat jou uit die moeilikheid sal hou).
Vir meer inligting oor die boek, besoek www.uctpress.co.za.

Comments are closed.