Die gediggie laat jou sommer weer voel asof jy self eksamen moet skryf. Studente moet weet dat almal wat al daardeur is, baie simpatiek is, alhoewel dit nie beteken dat ons dit kan wegneem nie….wat jou nie doodmaak nie, maak jou sterker!
eksamen – Annesu de Vos
dit is kakofonie
wanneer jy bang verwilderd
kantel
deur die nag
tussen die bladsye
van hoofstuk vyf
se Klimatologie;
die lêboor van die wyfiesprinkaan
klop
haar eiers stelselmatig stoot
tot in die veilige vesting
van jou dop –
jy sien die dood
as Franse Revolusies bloedloos stol
sodat die lewensiklus
van die mielieboorwurm
in die hamerslae van jou kop
voltooiing vind
tot jy verkorrel
in die suiker van soet slaap