So baie keer werk ons ons moeilike omstandighede of moet iets doen wat ons stresvlakke opjaag (soos mondelinge!).  Ja, toemaar, ons was almal daar op ‘n stadium en ek weet van bitter min mense wat ooit gehou het van mondelinge op skool.

Hier is ‘n bietjie hulp vir daardie leerders van Silvermine Academy wat voel die stres van die lewe vang bietjie op met julle…. (Ek hoop julle mondelinge vir volgende week is nie BO-aan julle lysies van wat julle stres nie!)

 

Nicol Brand

Jou hart klop in jou keel. Jy voel kortasem. Jou mond is droog. Ons almal ken een woordjie wat bogenoemde verskynsels baie goed saamvat: stres!

Stres kan jou baie maklik onderkry. Baie van ons geniet nie meer die aktiwiteite waaraan ons deelneem nie of ons wil nie meer nuwe uitdagings aanvaar nie. Hoekom?  Bloot net omdat ons daardie aaklige gevoel van stres wil vermy.

Klink dié situasie vir jou bekend?  Hier is 12 maklike maniere hoe om stres te wys wie is baas:

1. Praat!

Vertel iemand betroubaar hoe jy voel of skree dit sommer in jou kussing!  Dit mag dalk nie die situasie verander nie, maar dit sal jou wel help om van jou stres ontslae te raak.  Moenie jou gevoelens vir jouself hou nie.  Jy sal sommer baie beter voel as jy iemand het wat jou kan help om die situasie waarin jy jouself bevind, te hanteer.

2. Tree op!

Moenie bang wees vir verandering nie.  Vat die risiko en probeer om jou stresvolle situasie te verander.  Selfs al is die verandering hoe klein, dis ‘n stap in die regte rigting.  Dit sal jou help om in beheer van jou situasie te voel en moed gee om verdere nodige veranderings te maak.

3. Luister na jou liggaam

As jy oplet na hoe jou liggaam op stress reageer, kan jy ook leer hoe om hierdie stres te verminder. As jy byvoorbeeld baie angstig raak as gevolg van stres, neem ‘n paar minute om net eers rustig te raak voor jy enige iets anders doen. Ontspanningsoefeninge soos joga is ook ‘n goeie manier om van stres ontslae te raak.

4. Wees in beheer

Vind iets wat jou laat goed voel oor jouself.  Miskien is ‘n nuwe stokperdjie ‘n baie goeie idee!  Indien ‘n sjokolade of ‘n lekker inkopie-sessie jou beter laat voel, bederf jouself vir ‘n slag.  As niks help nie, neem die verantwoordelike besluit en gaan sien iemand wat opgelei is om jou te kan help.  Hierdie maak nie van jou ‘n swakkeling nie; dis net ‘n manier om te wys dat jy volwasse genoeg is om jou probleme vierkantig in die oë te kyk.

5. Moenie jouself oorweldig nie

As jy te veel stres en dit later nie meer kan hanteer nie, het jy miskien te veel hooi op jou vurk. Dis ‘n goeie idee om te gaan kyk na al jou aktiwiteite en verantwoordelikhede en te besluit wat regtig nodig is.  Leer om “nee” te sê en nie skuldig te voel daaroor nie.  Moet ook nie alles op jou eie probeer doen nie. Dit is nie ‘n skande om vir hulp te vra nie!

6. Kom ‘n bietjie weg

‘n “Change of scenery” kan die wêreld se verskil maak, al is dit net vir ‘n uur of twee.  Besoek nuwe plekke of gaan stap selfs net ‘n bietjie om die blok.  ‘n Lekker warm bad is ook ‘n goeie idee.  Moenie op jou probleme fokus nie – kry jou kop skoon en ontspan!

7. Prioritiseer

Maak ‘n lysie van wat jy alles moet afhandel en rangskik  hulle van die  belangrikste tot minder belangrik. Begin bo en handel elkeen stap vir stap af. Sodoende sal jy nie voel asof alles jou onderkry nie.  Jy sal ook sien dat dit dalk nie so onmoontlik is om alles af te handel nie of dat jou probleme nie so groot is soos wat jy gedink het dit is nie.

8. Verryk jou lewe

Deur ‘n bietjie van jouself en jou tyd aan ander af te staan, sal jy nie net iemand anders se lewe verryk nie, maar ook joune.  Bied jou hulp aan by ‘n kinderhuis of ouetehuis of gaan stap met jou besige buurvrou se honde.  Jy sal sien dat jy sommer meer in beheer van jou probleme voel. Boonop sal jy én die mense om jou rede hê om te glimlag.

9. Maak ‘n sukses van jou lewe

Jy is dalk nie tevrede met jouself of met jou lewe nie.  Leer om jouself lief te hê en stel bereikbare doelwitte vir jouself.  Werk met toewyding om hierdie doelwitte te bereik, maar moenie verwag dat alles oornag moet gebeur nie.  Geniet dit liewer om jou vordering dop te hou en onthou dat alles wat die moeite werd is, tyd vat. ‘n Cliché, ja, maar tog so waar.

10. Sosialiseer

Moenie dat stres van jou ‘n kluisenaar maak nie.  Gaan uit en vergeet ‘n bietjie van wat jy nog alles moet doen.  Wees egter net realisties en verantwoordelik  – dit gaan nie help om die hele naweek te kuier as jy volgende week drie take moet ingee nie!

11. Volg ‘n gebalanseerde lewenstyl

Om gesond te eet, genoeg te slaap en genoeg te oefen moet nie onderskat word nie. ‘n Gesonde lewenstyl sal jou beter oor jouself laat voel. Jy sal ook agterkom dat jou liggaam gesonder is en dat jy nie so vinnig moeg en gestres raak nie.

12. Leer hoe om gelukkig te wees

Geluk is ‘n keuse. Niemand kan heeltyd vrolik en opgeruimd wees nie, maar moet jouself nie heeldag sit en bejammer oor al jou probleme en stres nie. Fokus op oplossings en jou sterkpunte; nie jou probleme en tekortkominge nie.  Moenie verby die klein dingetjies in die lewe kyk nie en wees dankbaar vir wat jy het, al het jy nie alles wat jou hart begeer nie. Omring jouself met positiewe mense wat vir jou lief is en wat jou gelukkig maak. Die wenresep vir ‘n gelukkige lewe is ‘n positiewe gesindheid.

‘n Praktiese wenk:

Skryf vir ‘n maand elke dag ten minste een ding neer wat jou laat glimlag, al is dit net die son wat lekker buite skyn. Sit dit saam met ‘n Rand of twee in ‘n houertjie. Haal die lysie aan die einde van die maand, of wanneer jy ongelukkig of gestres voel, uit en lees dit. Gebruik die geld om jouself te bederf of skenk dit aan ‘n liefdadigheidsorganisasie van jou keuse. Elke bietjie help!

Wanneer jy weer gestres voel, probeer gerus bogenoemde maniere om jou stres te verminder. Moet ook nie vergeet om gesond te eet, genoeg te slaap en genoeg te oefen nie. Omring jouself met positiewe mense wat vir jou lief is en wat jou gelukkig maak.

Moenie dat stres jou onderkry nie. Dit is immers iets waarvan jy ontslae kan raak!

 

This post was written by:

 – who has written 43 posts on Res Novae.

Comments are closed.