Die Matrieks het hierdie week begin met hulle Proefeksamens.  Soms wonder hulle dalk waarom hul deur al hierdie pyn en lyding moet gaan.  Hier is ‘n paar redes, net vir ingeval party van hulle nog aanmoediging nodig het:

Vanaf die webtuiste:  www.studeer.co.za

Hoekom moet ek studeer?

Om te studeer is om jou lewe te verbeter.  Jy neem jou opleiding in jou eie hande.  Jy neem verantwoordelikheid vir jouself.  Wanneer jy studeer verbeter jy jou kanse om ʼn goeie werk te  kry, om ʼn verhoging te kry en ʼn beter salaris te kry.
Wanneer jy studeer en jouself verbeter, maak jy ʼn beter mens van jouself.  Jy sal meer selfvertroue hê en jy sal beter kan deelneem in gesprekke.  Jou algemene kennis word verbreed.  Jy kan nuwe konsepte makliker leer.  Jou studies het meer effekte in die agtergrond as wat jy sal dink.  Om te studeer is nie net om ʼn kwalifikasie en ʼn beter werk te kry nie, dit verbeter jou menswees.

Hoe kan ek studeer?

Dit maak nie saak waar jou lewe tans is nie.  Jy kan studeer.  Of jy nou matriek het of nie, of jy al werk en of jy so pas skool klaargemaak het, jy kan studeer.
Jy kan op een van die volgende maniere studeer:

  • Voltyds
  • Deeltyds
  • Afstandsonderrig.

 

Voltydse studies

Voltydse studies is die mees algemeen.  Die meeste skoolverlaters wat verder gaan studeer, studeer voltyds.  Dit beteken dat hulle klasloop by ʼn kollege, universiteit of tegnikon.  Dit is hulle daaglikse lewe.

Deeltydse studies

Mense wat reeds werk en nie voltyds kan studeer nie, maar wat steeds wil klasloop kan ʼn paar keer per week na aandklasse toe gaan.  Dit beteken dat hulle steeds ʼn voltydse werk kan hou, maar hulle het die voordeel van kontaksessies met dosente en hulle kan met klasmaats gesels oor die werk.

Afstandsonderrig

Afstandsonderrig is besig om vinnig veld te wen as ʼn gunsteling manier van studeer.  Baie mense wat reeds werk gebruik afstandsonderrig om te studeer.  Dit beteken dat die kollege of universiteit al jou studiemateriaal vir jou pos of koerier.  Jy stuur werkstukke op dieselfde manier na die kollege, of jy kan dit elektronies stuur.  Jy moet dan op jou eie studeer.  Jy kan studeer net wanneer jy tyd kry, en jy is nie gebonde aan enige afsnydatums nie.  Slegs eksamens is op vasgestelde datums.  Jy kan werkstukke op enige tyd ingee.  Jy kan so vinnig of so stadig studeer as wat jy wil.

Wat kan ek studeer?

Jy kan enige sertifikaat, diploma, graad of kort kursus studeer.  Elkeen van die tipes kwalifikasies het ʼn spesifieke doel.  Dit is gemik op ʼn spesifieke groep mense.
As jy nie matriek het nie, kan jy gerus begin deur ʼn sertifikaat te studeer.  Dit sal jou in staat stel om aan te gaan na ʼn diploma of selfs ʼn graad.  Daar is geen rede om te dink dat jy nie jou opleiding verder kan vat net omdat jy nie matriek het nie.

Comments are closed.